Ontvang belangrike ontledings, kommentaar en nuus direk per e-pos.

Europa se Keuse: Sterk Man of Ineenstorting

(Veronique de Viguerie/Getty Images)

Europa se Keuse: Sterk Man of Ineenstorting

Nasies regoor die Kontinent kook van woede. Die geskiedenis toon waarheen sulke krisisse lei. So ook Bybelprofesie.

Europeërs het geleer om met krisisse saam te leef: die euro krisis, die migrante krisis, die Oekraïne krisis, die energie krisis en meer. Vir jare is hierdie krisisse bestuur, maar nooit opgelos nie.

Op 17 Oktober het al hierdie krisisse in ‘n enkele dag van oproer tot ‘n kookpunt gekom. Meer as ‘n halfmiljoen mense het regoor Frankryk die strate ingevaar. Hulle het winkels geplunder, motors aan die brand gesteek en die polisie en brandweermanne aangeval. ‘n Duisend polisiebeamptes is

beseer, minstens 3 000 besighede is beskadig of geplunder, en wetstoepassers het ongeveer 2 400 mense in hegtenis geneem. Versekerde verliese kan $1 miljard oorskry.

Betogings is algemeen in Parys. Vernietiging op hierdie skaal is egter nie. Die geelbaadjie beweging, wat van 2018 tot 2020 wêreldwyd opslae gemaak het, het 16 maande geneem om daardie getalle te bereik. Maar hierdie herfs ly Frankryk aan ‘n “vorm van opstand” en ‘n “soort stedelike guerrilla oorlogvoering,” het die Franse Minister van Stedelike Sake, Vincent Jeanbrun, gesê. Die Spectator het gevra: “Kan Dit die Einde van die Franse Vyfde Republiek Wees?”

Die chaos in Frankryk het gewelddadige betogings in België en Italië aangevuur. Betogings het ook in Spanje, Portugal en Albanië uitgebreek.

Aan die wortel van die onluste lê krisisse wat Europa nie kon oplos nie—sommige al vir dekades lank.

Dit herinner aan die woorde van een van Europa se stigtersvaders, Jean Monnet: “Europa sal in krisisse gesmee word en sal die som wees van die oplossings wat vir daardie krisisse aanvaar word.”

Hierdie woorde sal profeties blyk te wees. Meer as enigiets anders sal Europa die resultaat word van sy oplossing vir die leierskap krisis: diktatorskap.

‘n Trae Europa

Die 2008 euro krisis behoort teen hierdie tyd al ou geskiedenis te wees. Dit is al byna twee dekades sedert die subprima verbandborrel in die Verenigde State gebars het en die euro geldeenheid amper ineengestort het. Die eurosone het dit oorleef—maar iets bly gebreek.

Voor die 2008 krisis was die gesamentlike ekonomie van die Europese Unie se nasies 20 tot 30 persent groter as dié van Amerika (afhangende van hoe mens wisselkoerse hanteer het). Vandag is dit ongeveer 30 persent kleiner.

Sedert 2008 het die nominale bruto binnelandse produk in die VSA verdubbel. Met ander woorde, die dollarwaarde van alle goedere en dienste wat vandag in die VSA geproduseer word, is twee keer wat dit in 2008 was. ‘n Groot deel daarvan is inflasie, maar nie alles nie. In die EU het die nominale bbp met slegs ‘n vyfde gegroei.

‘n Kernrede vir hierdie groot verskil is dat Europese produktiwiteit gestagneer het. Van laat 2019 tot middel 2024 het die VSA se produktiwiteit per gewerkte uur met 6,7 persent gestyg. Dit is normaal: Beter onderwys en beter tegnologie beteken dat mense meer per gewerkte uur kan produseer. Maar oor dieselfde tydperk het produktiwiteit in die eurosone met slegs 0,9 persent gestyg—‘n skamele 13 persent van Amerika se groei.

Dit het verreikende implikasies. Regering, samelewing en lewenstyl is gebou op die aanname dat ekonomieë mettertyd groei en dat elke geslag welvarender as die vorige sal wees. Wanneer daardie groei stop, word pensioene onbekostigbaar. Hoewel huispryse aanhou styg het, het inkomste nie gestyg nie, wat huiseienaarskap vir ‘n hele geslag buite bereik geplaas het. As gevolg daarvan stel baie mense die huwelik en kinders uit.

Dit is des te meer opvallend omdat Oos-Europa oor dieselfde tydperk dramaties ryker geword het. Die stagnasie is in die Weste gekonsentreer.

Die enigste faktor wat verhoed dat hierdie ekonomieë hulself vernietig, is skuld. Nasies het groot bedrae geleen om pensioene en toelaes te laat styg—dikwels vinniger as inflasie. Toe covid-19 toegeslaan het, het regerings mense betaal om tuis te bly, en sodoende ‘n ekonomiese ramp tydelik afgeweer. Om dit te doen, het hulle nog meer geld geleen.

Eurointelligence begryp die omvang van die krisis: “Europa se unieke ekonomiese en sosiale model, sowel as sy demokrasie, is baie meer afhanklik van ekonomiese groei as wat mense gedink het” (19 Oktober).

Noudat die groei verdamp het, word die ekonomie, die samelewing en demokrasie self bedreig.

Putin Betree die Toneel

Nou verg ‘n nuwe behoefte selfs meer skuld: herbewapening. Die Russiese President Vladimir Putin het in 2022 sy volskaalse inval in Oekraïne geloods. Ander Europese nasies glo dat hulle Putin se volgende teiken kan wees, tensy hulle genoeg spandeer om intimiderend te lyk.

President Donald Trump het dit duidelik gemaak dat Amerika geen belang daarby het om vir Europa se verdediging te betaal nie. Europeërs sal self die fondse moet vind.

Vir Duitsland is dit geen probleem nie. As een van die groot ekonomieë met die minste skuld, gebruik dit sy kredietkaart tot die uiterste vir verdediging. Vir almal anders is dit nog ‘n begrotings hoofpyn wat hulle nie kan hanteer nie.

Miljoene Migrante

Nog ‘n krisis wat eerder bestuur as opgelos is, is die voortdurende migrasie golf. Sedert 2014 het iewers tussen 5 miljoen en 8 miljoen migrante Europa vanuit die Midde-Ooste en Noord-Afrika binnegekom. Die stroom aankomelinge is vandag kleiner as op die hoogtepunt van die krisis, hoofsaaklik omdat daar nie weer ‘n oorlog op die skaal van die oorlog in Sirië was nie. Europese regerings het ook onderdrukkende regimes omgekoop om migrante te keer voordat hulle Europa bereik. Maar hulle het niks gedoen aan die miljoene migrante wat reeds daar is nie.

Ander “oplossings” is meer toneelspel as werklikheid. Europese regerings kan migrante rondskuif, hul soort akkommodasie verander, met hul staatstoelaes peuter of kontrole by hul grense instel—maar miljoene migrante bly in Europa. Hoekom?

Europa se Demokrasie Krisis

Vir jare al vloei mag in Europa weg van burgers en verkose regerings in die hande van onverkose burokrate: regters, reguleerders, lede van komitees in Brussels. Daar is nou ‘n komplekse hiërargie van nasionale en internasionale howe, met EU-reëls en verdrae wat oor miljoene bladsye strek.

Gevolglik kan groot Europese lande selde ‘n beduidende besluit neem sonder dat ‘n reeks howe eers hul sê sê nie. Regulerende liggame wat deur belastingbetalers befonds word, daag die regering hof toe en sleep dit deur nasionale howe—en dan deur Europese howe.

Dit is nog ‘n rede waarom Europa se ekonomie gestagneer het terwyl Amerika s’n gegroei het. Die Amerikaanse ekonomie het groot, grondliggende probleme—maar ten minste word dit gelei deur ‘n regering wat op veranderende tegnologie en omstandighede kan reageer. Europa s’n kan nie.

Die skade was die grootste op die gebied van migrasie. Groot getalle Europeërs wil hê dat migrante moet wegtrek. Die Europese Hof vir Menseregte maak deportasies martelend ingewikkeld en dikwels onmoontlik, selfs vir gewelddadige, gevaarlike misdadigers.

Die miljoene bly dus.

Politieke Verlamming

Die terugslag teen hierdie hoofpyne het ‘n nuwe skeidslyn in die Europese politiek geskep, bykomend tot die fundamentele links-regs verdeling. Aan die een kant is die hoofstroom partye van links en regs, wat oor ‘n aantal kwessies skerp verskil, maar dit binne die huidige stelsel wil uitbaklei. Aan die ander kant is nuwe uitdagers van beide links en regs wat die bestaande wette en norme wil verbrysel. Hul doelwitte verskil, maar, tereg of ten onregte, kom hulle almal in opstand teen die gevestigde orde: Hulle wil migrante deporteer, uit navo tree, geld druk, belastingkoerse van 100 persent instel, die EU afskaf of ‘n bondgenootskap met Rusland sluit.

Hierdie nuwe breuklyn het die grootste deel van Europa byna onregeerbaar gemaak. Geen faksie kan ‘n meerderheid in enige parlement verkry nie. Europa word oorheers deur ingewikkelde koalisies, minderheidsregerings en ongewilde leiers.

  • Duitsland: In ‘n meningspeiling op 1 Oktober deur die Duitse openbare uitsaaier ard het Kanselier Friedrich Merz die laagste goedkeuringsgradering gekry wat nog ooit vir ‘n Duitse kanselier aangeteken is: Slegs 10 persent het gesê dat hulle tevrede is met sy leierskap. Sy koalisie verbind sy konserwatiewe party met sy presiese teenpool, die Sosiaal-Demokratiese Party. Intussen toon meningspeilings die opkomende Alternative für Deutschland as die land se gewildste party.
  • Frankryk: President Emmanuel Macron het die steun van sy parlement verloor, en sy ampstermyn eindig volgende lente. Frankryk het sedert 2024 deur vyf regerings gegaan. Meer as twee dosyn mense het hulself as kandidate verklaar om Macron te vervang, maar slegs die uiterste linkses en die uiterste regses het werklike momentum.
  • Nederland word regeer deur ‘n drieledige minderheidskoalisie van twee middel-regse partye en een middel-linkse party. Selfs wanneer hulle oor iets saamstem, het hulle nie die stemme om dit deur die parlement te kry nie.
  • Spanje: Eerste Minister Pedro Sánchez het jare lank gesukkel om te keer dat sy linkse minderheidskoalisie ineenstort. Op 5 Oktober het hy uiteindelik moed opgegee en ‘n vervroegde verkiesing vir 29 November uitgeroep.
  • Pole: Die president en eerste minister behoort aan teenoorgestelde partye. Hulle is in ‘n magstryd vasgevang, waarin die president sy veto uitspreek oor die belangrikste dele van wetgewing wat die parlement aanneem.
  • België is miskien die absurdste van almal en word regeer deur ‘n vyf-party koalisie wat sosiaal-demokrate, middel-regse partye en Vlaamse separatiste insluit.

Die Franse Kom in Opstand

Al hierdie faktore en griewe het in Europa se protes bewegings saamgevloei. Franse skoolkinders het hul eie skole en onderwysers aangeval, aangemoedig deur die uiters linkse presidentskandidaat Jean-Luc Mélenchon.

Miljoene Moslem migrante en kinders van migrante het by hulle aangesluit. Algeriese en Palestynse vlae wapper langs die hamer en sekel. “In die naam van Allah kan ons hulle almal doodmaak,” het een oproermaker gedreun. Die New York Post het geskryf: “Frankryk se Onluste Is Geen Gewone Protes Nie—Dit Is ‘n Intifada in die Hart van Europa.”

Onder die nie-migrant betogers wil sommige meer geld vir skole hê. Ander betoog teen die lewenskoste. Intussen hou die regering jaar na jaar aan om te veel te spandeer. Almal stem saam dat dit sy lenings moet verminder, maar daar is geen meerderheid in die parlement om dit te doen nie.

Toe President Macron die nasie ná die betogings van 17 Oktober toegespreek het, was sy aankondiging dus … niks. Daar was niks wat hy kon doen nie. Daar is geen geld oor nie. Frankryk se rentekoerse nader krisisvlakke namate beleggers hul geld uit Franse effekte onttrek en in baie veiliger Duitse effekte belê. Macron sit vas, en so ook Frankryk.

Vertroue of Ineenstorting

Europeërs het twee moontlike paaie voor hulle. Hulle kan voortgaan om konvensionele leiers te volg wat volgens die reëls speel, verkiesingsveldtogte voer, verandering beloof en dan eenvoudig doen wat howe, burokrate en skrikwekkende finansiële wiskunde voorskryf.

Of hulle kan ‘n diktator vind.

‘n Gewone politikus kan homself eenvoudig nie bevry van die patrone van nutteloosheid wat Europa tot hierdie punt gebring het nie. Dit sal iemand verg wat nie bang is om die reëls te breek nie.

Toe Europa in die verlede voor rampspoed te staan gekom het, het so ‘n leier na vore getree. Met die onrus in Frankryk is Napoleon die voorbeeld waaraan baie mense dink. In 1789 het Frankryk se massiewe skuld, stygende lewenskoste en ontevredenheid oor ongelykheid tot die Franse Rewolusie gelei. Burgeroorlog, gewone oorlog, die Skrikbewind en ‘n reeks staatsgrepe het gevolg, totdat Napoleon dit met ‘n “sarsie kardoesskoot” beëindig het.

Adolf Hitler sou gesukkel het om in ‘n stabiele, welvarende Duitsland aan bewind te kom, maar ‘n ekonomiese krisis in ‘n verslane en vernederde nasie het sy eenvoudige boodskap—blameer die Jode—gewild gemaak.

Italië was aan die wenkant van Wêreldoorlog i, het gevoel dat dit deur die vredesverdrae tekortgedoen is, en het steeds in ekonomiese onrus verval. Die resultaat: die opkoms van Benito Mussolini. Trouens, die chaos van die tussenoorlogse tydperk het diktators in Spanje, Portugal, Hongarye, Pole, Oostenryk, Griekeland, Turkye, Joego-Slawië, Roemenië, Letland, Litaue en Estland aan bewind gebring. Min van hierdie sterk manne sou aan bewind kon kom as die Kontinent nie in chaos was nie.

Kyk na Rusland vir ‘n meer moderne voorbeeld. Die val van die Sowïet Unie, hiperinflasie, burgeroorlog en ongelykheid het Boris Jeltsin—eens ‘n konvensionele vryheidsvegter—aangespoor om moed op te gee, dronk te word en die leisels aan Vladimir Putin oor te gee.

Daar is egter talle ander voorbeelde waar ineenstorting bloot tot nog erger ineenstorting gelei het, maar geen sterk man na vore getree het nie. Dit is waar die Bybel, met sy gewaagde aanspraak dat dit die toekoms akkuraat voorspel (Jesaja 46:10), onontbeerlik is.

Vir jare al publiseer die Filadelfia Basuin voorblad artikels wat voorspel dat ‘n sterk leier binnekort sal verskyn en Europa sal oorheers. Europa se behoefte aan so ‘n sterk man is duideliker as ooit.

“Die harde werklikheid is dat Europa, sonder so ‘n man aan bewind, nooit die supermoondheid sal word wat dit wil wees nie!” het Trumpet uitgewer Gerald Flurry geskryf. “Hulle kan soveel as wat hulle wil praat oor die bou van ‘n verenigde weermag, maar die EU soos dit tans saamgestel is, kan nie opgewasse wees teen die toenemende uitdagings van ‘n post-Amerikaanse wêreld nie!” (Trumpet, November-Desember 2021).

Europa het sy sterk man nodig. En die sterk man neem nie mag oor uit ‘n stabiele, vrye samelewing nie, maar uit mense in beroering. Mnr. Flurry het voortgegaan: “Europeërs staar groot krisisse in die gesig, insluitend ekonomiese onstabiliteit, terrorisme en onwettige immigrasie, en toenemende bedreigings uit Asië. In tye van krisis is mense minder bekommerd oor demokratiese norme. Hulle het sterk leierskap nodig. Dit moet van Duitsland kom, wat Europa vandag oorheers en selfs daaroor baasspeel. Dit is Europa se kragbron.”

Baie Amerikaners skryf reeds die doodsberig van die Europese beskawing. Toestande sal selfs neerslagtiger word voordat die sterk man verskyn en dinge omkeer. Baie Bybelprofesieë beskryf die supermoondheid wat op die punt staan om op die Kontinent na vore te kom.

God het aan Daniël ‘n reeks profesieë gegee wat, het Hy gesê, nie verstaan sou word tot “die tyd van die einde” nie. Hy beskryf die ryke wat ná Daniël se tyd sou volg, breedvoerig sowel as gebeure wat kort voor die Messias se Wederkoms sou plaasvind. Daniël 8 en 11 beskryf ‘n sterk man wat werklik die Heilige Land binneval om ware godsdiens te probeer uitroei. Jesus Christus Self het gesê dat hierdie gedeelte meer as antieke geskiedenis is: Dit beskryf ook ‘n toekomstige gebeurtenis waarvoor Sy volgelinge moet uitkyk (Matthéüs 24:15).

Openbaring 17 beskryf dieselfde leier op ‘n ander manier: 10 konings sal hul mag en krag aan sy ryk gee (verse 12-13). Europa is reeds besig om as ‘n nuwe vorm van multinasionale ryk op te staan. ‘n Akkurate begrip van die profesie in Daniël 2 openbaar dat dit binnekort sal krimp tot 10 nasies of groepe nasies—gelei deur een sterk man.

Hierdie leier moet binnekort verskyn, anders sal Europa verlore wees. Om meer te leer oor wat die Bybel oor sy opkoms sê, lees ons Trends artikel “Why the Trumpet Watches the Rise of a German Strongman” (Tans slegs in Engels beskikbaar).